Graan differensiaal – ‘n verduideliking

Wanneer die graan differensiaal weggeneem word…

Indien jy nou ‘n warm gesprek rondom ‘n braaivleisvuur by die boerevereniging se vergadering wil ontlok, gooi jy die “D”- woord rond en staan terug, want jy kan verseker wees dat gemoedere gaan opvlam soos menings daaroor verskil.

Kom ons kyk bietjie na die differensiaal uit die makro-oogpunt van pariteite – dit wil sê, in- en uitvoerpariteite.

Wat gebeur as ons moet uitvoer?

Gestel ons is in ‘n uitvoerjaar, met oorskotproduksie, in ‘n lae prysomgewing, wat toelaat dat graan die land kan verlaat omdat dit goedkoper is as byvoorbeeld Brasilië of Argentinië.

  • Gestel jy boer by Warden en jou differensiaal is min R300, Safex is R3200, die rand is R15 teen die dollar en Argentynse mielies land in Vietnam teen $193.
  • Gestel Suid-Afrikaanse mielies land daar teen $190 en dat RSA-graan eerder geneem word as Argentynse graan.
  • Jy verkoop jou mielies teen Safex min R 300 differensiaal en ry dit Durbanhawe toe teen ‘n koste van R400. Die mielies land in Durban teen Safex +R100.
  • Neem nou die differensiaal weg: 300/15= $20/t. Skielik is RSA-mielies nou $190 + $20 = $210/t gelewer in Vietnam.
  • Om nou weer by uitvoerpariteit uit te kom moet die markprys (Safex) R300 ($20) daal. Die totale ‘voordeel’ van die wegneem van die differensiaal is dus daarmee heen.

Kom ons neem uitvoer na Zimbabwe as ‘n voorbeeld:

  • Middelburg-mielies verhandel teen Safex – R250 differensiaal + R250 liggingspremie = Safex
  • Vervoer na Harare is R1 300.
  • Sonder om ander minimale padlangse kostes in ag te neem, kos Middelburg-mielies in Harare – Safex + R1300.
  • Gestel nou ‘n produsent in Hoopstad wil sy mielies in Harare lewer en kompeteer teen die Middelburg-produsent.
  • Vervoer vanaf Hoopstad na Harare beloop R1 650, daar is dus ‘n R350 differensiaal teenoor Middelburg.
  • Neem jy die differensiaal weg, kos Middelburg steeds Safex -0 en nou kos Hoopstad Safex R350

Wat gebeur as ons moet invoer?

  • Gestel Safex staan op R4 300
  • Argentynse mielies land in Durban teen R4 000 + vervoer van R120 na Pietermaritzburg = R4 120
  • Argentynse mielies land in Randfontein teen R4 000 + R350 vervoer = R4 350
  • Safex-mielies land in Pietermaritzburg teen R4 300 -R300 uit Warden + 300 vervoer = R4 300
  • Die mark dwing Warden-mielies dus nou om na die binneland te gaan (die Rand of Randfontein) teen R4 300 -300 + R50 premie + R300 vervoer = R4 350
  • Neem nou die differensiaal weg, dan is Warden R4 300 – 0 = R4 300 + R300 vervoer na die Rand = R4650
  • Safex moet nou R300 daal aangesien die Argentynse mielies nou R300 goedkoper land aan die Rand as wat Warden mielies daar land.
  • Weereens korrigeer die prys na die vlakke wat deur pariteite gedikteer word.

Die bogenoemde voorbeelde is slegs gebaseer op pariteite en die makro-graanhandelomgewing.

– Die oorsig  is saamgestel deur: Christoph Grey – Uitvoerende Direkteur, Rand Agri