Graan-bemarkingstrategieë na oestyd

Graan-bemarkingstrategieë na oestyd speel ‘n instrumentele rol in die optimalisering van produsente se oes. Die strategie verskaf aan produsente die opsie om hul graan op ‘n later stadium te kan bemark, veral wanneer mikro- en makro faktore moontlik tot hoër pryse kan lei.

‘n Effektiewe graan-bemarkingstrategie is noodsaaklik om oeste, veral die oes wat nie onmiddelik verkoop word nie, te verskans om die produsent te help om hul graanprys beter te bestuur. “Graanhandelaars soos Rand Agri streef daarna om jaar-op-jaar beter strategieë te implementeer en jaarliks beter premies aan ons produsente te kan bied, deurdat ons hul oeste direk aan die eindverbruiker verkoop”, sê Christoph Grey, direkteur, Rand Agri.

Grey lig verder uit dat raadgewing rakende seisoenkontrakte, risiko- en prysbestuur asook kennis van graanmarkte bydraende faktore is, en van kardinale belang vir ingeligte besluitneming tydens die opstel van ‘n bemarkingstrategie, hetsy deur die produsent self, of ‘n graanhandelaar soos Rand Agri. Kennis van markte, weerpatrone, in- en uitvoerpariteite asook aanplantingspatrone, oestoestande en oesvooruitsigte wat strek oor kontinentale en interkontinentale grense is aanvullende inligting wat ‘n rol speel in die bepaling van die beste oesbeskermingstrategie.

Tipiese drywers wat graanpryse beïnvloed sluit die volgende in:

  • Weerpatrone in Suidelike Afrika, maar ook oor ander meer belangrike produserende lande soos die VSA, China en Brasilië.
  • Wisselkoers skommelinge waaraan Suid- en Suidelike Afrika meer uitgelewer is as ontwikkelde lande.
  • Verbruikerspatrone wat voortspruit uit huishoudelike voedsel-, voer- en industriële markte en wat verbruikersvoorkeure en die veranderende behoeftes van eindverbruikers insluit.
  • Beskikbare voorraad wat wissel na gelang van jaarlikse produksie.

Mikro-en makro faktore beïnvloed plaaslike markpryse

Ander makro-ekonomiese faktore soos die internasionale ekonomie, die olieprys wat meestal vervoerkostes bepaal, politieke besluite soos die handelsoorlog tussen die VSA en sy grootste verbruiker, China, is meestal die hoofdrywers van pryse en gewoonlik onvoorspelbaar.

Beplanning van ‘n oesbemarkingstrategie

‘n Effektiewe oesbemarkingstrategie begin deur die produsent se insetkoste, langtermyn-gemiddelde-opbrengs (LGO), en daaglikse markprysbewegings in ag te neem.

Die uitkoms van die strategie lei tot ‘n voorgestelde prysbestuur- of verskansingskontrak opgestel deur ‘n graanhandelaar, gegrond op navorsing en die gevolgtrekkings gemaak uit bogenoemde inligting.  Volgens Grey is dit van deurslaggewende belang dat die produsent teen winsgewende vlakke bemark en van geleenthede gebruik maak om minimumpryse in plek te sit om sy risiko te beperk.

Opsomming

Wanneer ‘n na-oesbemarkingstrategie ontwikkel word, moet die doelwit wees om ‘n gemiddelde en selfs bo-gemiddelde markprys gedurende die seisoen te verkry.

Ongeag of u ‘n produsent of verwerker van graan is, u sal baat vind by die gehalte diens wat Rand Agri u kan bied. Kontak Rand Agri gerus by +27 (0)13 243 1166 of stuur ‘n e-pos na info@randagri.co.za om met een van ons handelaars oor ‘n oesbemarkingstrategie te praat.

Besoek www.randagri.co.za vir meer inligting.